Howbill Rugby wen die Witzenbergskild

Howbill Rugby wen die Witzenbergskild

Howbill se rugby span het die 2024 seisoen met nuwe hardeware vir die trofeekas afgesluit.

Na ʼn naelbyt seisoen het die Howbill spelers se dissipline en vasbyt mentaliteit die deurslag gegee, en hulle kon die top posisie op die punteleer, in die gesig van harde teenstand verdedig.

Die span het die 2024 Witzenbergskild liga gewen.

Adam Keyser, 2024 kaptein, sê na afloop van die seisoen, dat hulle manne hard gewerk het om in die seisoen bo aan die punteleer te staan. “Ons was laasjaar net-net in die tweede plek, en ons doelwit was om die jaar daai stappie te verbeter”. Hy voeg by dat hulle dissipline en genade van bo, hulle op die ou eind deurgedra het om die trofee te lig.

Howbill beweeg in die 2025 seisoen op na die Streeksliga.

Nicky Klein, spanbestuurder, se vooruitsig vir die nuwe seisoen “dit gaan tough wees, maar ons manne hoef nie vir daai spanne terug te staan nie, ons gaan sommer vroeg in die seisoen onsself aan die vorige seisoene se kampioene kan meet.”

Howbill se rugby span speel hierdie seisoen in die Streek Liga. Op Boland Rugby se voorlopige program is hulle eerste amptelike wedstryd die 8ste Maart.

Die Boland gemeenskap skild is ʼn toonbeeld van Grassroots rugby op sy beste. Howbill sit Saterdag vir Saterdag in die winter twee spanne op die veld. Dit is manne wat harde fisiese werk in die dag doen en dan in die aande hulle werksklere verruil vir tokse.

Die rugbyspan geniet ʼn baie sterk ondersteuningbasis. “Ek mis nie ʼn wedstryd nie” sê Maria Arries, wat in die 2024 seisoen élke wedstryd, tuis of weg, bygewoon het. “Ek sien heel week uit vir Saterdae se wedstryde. Dit is vir my iets lekker om oor die naweek te doen.” Maria is een van ʼn groep ondersteuners wat week op week hulle stemme dik maak langs die veld, ter ondersteuning van hulle span.

Howbill spelers voer ʼn duikslag uit